aarde bar en kaal
en winter wind se asem
fluister koud my naam…
Ek is lief vir my taal daarom die voortdurende drang om te skryf en my skrywes te deel met ander wat soos ek ook 'n passie het daarvoor. Dit wat ek uit my pen voortbring, my woorde, gee ek as blywende teken van dit wat in my gedagtes leef. Ek het onlangs ook 'n paar Engelse gedigte begin neerpen en ek deel van hulle hier.
Saggies huil die wind oor Golgota se kruin, wenend oor ‘n onskuldige se pyn. Snikkende klank vol smart en lyding, ‘n droewige lied van ‘n bittere tyding.
'You are not allowed to go'
hulle wil die boere in die kolonie hou
Britse onderdaan moet hy bly
anders gaan hy moeilikheid kry!
Die eerste waens is lank reeds vort
toe die goewerment hom wend tot die kôrt
hulle plaas in die Government Gazette
toe 'n nuwe wet.
Op jou kakebeenwa, nie meer as 100 pond kruit,
maar die trekkers wil die Ooskaap uit!
Daar is niks wat hulle keer
versteek die kruit, lood en geweer.
Ⓒ Marie Greyvenstein
Voetnota: Kôrt is die verafrikaans van court - ter wille van rym.
die droë, hitte van die uitgestrekte Karoo
tot die vlaktes van die Camdeboo,
digte Tsitsikamma woud
en suidelike Drakensberg se majestieuse koud
sonskyndae aan die ongerepte kus,
selfs winter,
vir die oog ‘n lus
aalwyne se oranje vuur
wat vlam soos ‘n brandend’ muur
groot 5 in Addo-, Pumba- en Samara park
ideaal vir die toerisme mark
prag en avontuur, wonderskoon
vriendelike mense wat hier woon!
© Marie Greyvenstein
The world is draped in icy white,
the canvas cold, devoid of light
but in this cold, a quiet grace
a moment’s peace, a still embrace
for in the depths of winter’s night,
a glimmer of hope in distant light,
a promise of what the spring will bring;
a thaw to winter’s icy sting!
©Marie Greyvenstein
‘n Tarentaal se kras alarmroep
onder
kameeldoring se blaarsambreel
wanneer
beeste bulkend huistoe troep,
veilig’ slaapplek in die kraal te deel.
Afrika natuur toneel
waar hanslammers knuppeldik gesuip
uitbundig in die lang gras speel
‘wyl die laaste strale oor hulle koppe kruip.
Ligstrale sak stadig oor die westerkim,
goue mielielandebaai in die sakkende son
se laaste oranje glim;
vir eers die nagsê van ‘n lewensbron.
Agter die maan wink ‘n grys wolkbank
in gedagtes klink die veraf klank
van ‘n tarentaal se kras alarmroep
onder kameeldoring se blaarsambreel!
© Marie Greyvenstein
Herfs se kleure, goud en geel
wat somer se warm dae steel.
Droё blare wat in die windjie speel,
en vroegaand bibber met die winter deel.
As boomstamme kaal en naak
oor dorre velde waak,
yskristalle onder voete kraak,
soek koue donker binne wraak!
As bekommernis op my skouers druk,
my voete abrub onder my uitruk,
smart en vrees 'n sware juk,
dan is die wye oseaan my kruk!
As stiltes oor die aarde vee,
ek in die skemering oor duine tree,
hoor ek die gedruis wat lewe gee,
die bewegende water uit die see!
Kopiereg: Marie Greyvenstein
Deur die via Dolorosa gestap
oor stene uit klippe gekap,
kniel langs die Koning se kruis
'wyl 'n storm oor Golgota ruis.
Daar is die ruwe krusifiks van eik
grof, onafgewerk wat na die hemel reik
met bloedvlekke op die hout
en my Heer se trane, sout.
Die angs en die pyn,
die dors se suur asyn,
plek van beproewing
van lyding, vernedering ... vergewing.
Maar die lug trek oop
die houtsuil se stille hoop
dit is die houtkruis, die redding, die leiding
die boodskap van bevryding.
Kopiereg: Marie Greyvenstein
saggies skerts en speel die windjie
deur die blare van die boom
goue blaar nie goed geheg nie
gaan met die bries op reis
dwarsoor Swellengrebelstraat
draaiend oor De Groote Wagenweg
op vlerke na die ou Drostdy
en oor die Korenlandsrivier
so toer die akkerboom se blaar
op sy rit na Langeberg
en by die ou wabrugdrif
begin die wind se sterkte taan
stadig spiraal die akkerblaar
grondwaarts ... af ... af ... af
vertrap deur skoen en wiel
hy sterf ...
sy reis verby
Kopiereg Marie Greyvenstein
Saans
as die mense wat ek liefhet
my drome vol kom staan
en uit elke steeg en straat
stemloos met my praat
Soggens
as die mense wat ek liefhet
soos skimme voor die son verdwyn
en ek met heimwee
'n verdrietige traan van my wange vee
Kopiereg; Marie Greyvenstein
Net een laaste verfstryk op die groot doek, een laaste punt in jou lewensboek. Een laaste noot uit Bach se werk, alles om ons wys jo...