Sondag 14 Julie 2024

Depressie

 Herfs se kleure, goud en geel

wat somer se warm dae steel.

Droё blare wat in die windjie speel,

en vroegaand bibber met die winter deel.


As boomstamme kaal en naak

oor dorre velde waak,

yskristalle onder voete kraak,

soek koue donker binne wraak!



Kopiereg: Marie Greyvenstein

Maandag 22 April 2024

Lewenskring

Daar het 'n doringboompie
langs die bergrivier gestaan.
Groen takkies beur al hoër,
wortels wat diep in die water staan.

En eendag kom daarlanges
'n houtkapper met sy byl verby,
kap takke vir sy vuurtjie
terwyl boompie teen 'n harstraan stry.

Ook het die loop van jare
die ouderdom gebring.
Die boompie word al ouer,
verminkte lewenskring.

Die doringboom is nou bejaard
en tyd stap stadig aan,
doringreus se bas word broos en bros
as jare kom en gaan.

Kopiereg: Marie Greyvenstein

 Vergewe en vergeet van Totius was die inspirasie vir hierdie gedig.


Woensdag 13 Maart 2024

Ontvlugting

 As bekommernis op my skouers druk,

my voete abrub onder my uitruk,

smart en vrees 'n sware juk,

dan is die wye oseaan my kruk!


As stiltes oor die aarde vee,

ek in die skemering oor duine tree,

hoor ek die gedruis wat lewe gee,

die bewegende water uit die see!


Kopiereg: Marie  Greyvenstein



Sondag 03 Maart 2024

Houtkruis

Deur die via Dolorosa gestap

oor stene uit klippe gekap,

kniel langs die Koning se kruis

'wyl 'n storm oor Golgota ruis.


Daar is die ruwe krusifiks van eik

grof, onafgewerk wat na die hemel reik

met bloedvlekke op die hout

en my Heer se trane, sout.


Die angs en die pyn,

die dors se suur asyn,

plek van beproewing

van  lyding, vernedering ... vergewing.


Maar die lug trek oop

die houtsuil se stille hoop

dit is die houtkruis, die redding, die leiding

die boodskap van bevryding.




Kopiereg: Marie  Greyvenstein

Donderdag 29 Februarie 2024

Swellendam

 saggies skerts en speel die windjie

deur die blare van die boom

goue blaar nie goed geheg nie

gaan met die bries op reis


dwarsoor Swellengrebelstraat

draaiend oor De Groote Wagenweg

op vlerke na die ou Drostdy

en oor die Korenlandsrivier


so toer die akkerboom se blaar

op sy rit na Langeberg

en by die ou wabrugdrif

begin die wind se sterkte taan


stadig spiraal die akkerblaar

grondwaarts ... af ... af ... af

vertrap deur skoen en wiel

hy sterf ...  

sy reis verby


Kopiereg Marie Greyvenstein

Woensdag 28 Februarie 2024

Skimme


Saans

as die mense wat ek liefhet

my drome vol kom staan

en uit elke steeg en straat

stemloos met my praat


Soggens

as die mense wat ek liefhet

soos skimme voor die son verdwyn

en ek met heimwee

'n verdrietige traan van my wange vee


Kopiereg; Marie Greyvenstein

Nuutste

ODE aan Liezel

  Net een laaste verfstryk op die groot doek, een laaste punt in jou lewensboek. Een laaste noot uit Bach se werk, alles om ons wys jo...